Nicqie Identity Stylist

I am FORGIVEN

‘n Vreemde titel vir dit wat ek nou met jou gaan deel, maar bly by my – op die einde kom dit alles mooi bymekaar.

Vir as jy nie weet nie, is my besigheid nog ‘n baba. ‘n Baba wat gebore was begin 2020, net voor Covid. Die kenners beweer mos dat ‘n besigheid drie jaar vat om op die been te kom. Vandat ek my besigheid begin het (nadat ek vir tien jaar in ‘n totaal ander beroep was) het dit gevoel asof ek ‘n resiesperd is. Ek het al ‘n paar keer genoem dat ek my oogklappe moet aansit in hierdie “lewens resies”. Vir my besigheid om vorentoe te gaan, het tot hede vir my gevoel soos ‘n resies wat ek moet hardloop.

Alhoewel my besigheid lyk asof ek Stylering en Voorkoms doen, is my hart IDENTITEIT. Vir daardie deel moet ek baie gehoorsaam wees aan die Heilige Gees. Ongehoorsaamheid het my al duur gekos ( letterlik!! Dis ‘n storie vir ‘n ander dag). In hierdie resies, het die Here vir my so twee maande terug kom wys ek moet stop om te hardloop. Van ‘n besigheidskant maak dit glad nie sin nie, ek weet! “STOP om dit te sien as ‘n resies. FOKUS OP MY” Omdat my vlees overambitious is, het ek gedink ek het gestop maar ek het nie rerig gestop nie.

Tot, so twee weke terug, toe ek vir vier dae my besigheid op sy moes skuif om te fokus op meer eenvoudige, aanhoudende dagtake. Teen dag vier was ek soos ‘n beer met ‘n seer toon. Hoe DANKBAAR is ek nie vir my man nie. Hy wys toe vir my uit dat ek eerder moet fokus op die positiewe. Ek het myself vir so paar minute jammer gekry, maar toe ek daaroor begin bid, wys die Heilige Gees vir my presies dit – Dit is so gehardloop maar na wat?

Daarom besluit ek toe om meer TYD saam met die Here te spandeer, doelbewuste afsprake met Hom te hê. Kyk wat sê Hy met ons eerste afspraak vir my:

“Except the Lord builds the house, they labor in vain who build it; except the Lord keeps the city, the watchman wakes but in vain. It is vain for you to rise up early, to take rest late, to eat the bread of [anxious] toil—for He gives [blessings] to His beloved in sleep.” Psalm 127

HOE MOOI IS DIT!! Waarheen hardloop ons? Terwyl Hy Sy geliefdes in hulle slaap seen? Ek weet ook dat daar staan dat die luiaard na die mier moet gaan. So dit is nodig om te werk, maar dit gaan meer oor jou hart as wat dit gaan oor die werk self. My oog sien die volgende vers:

Behold, children are a heritage from the Lord” Psalm 127

Sjoe!! Met soveel planne en idees om ‘n erfenis agter te laat, het jy reeds ‘n erfenis in jou huis – jou kinders!! Ons droom baie keer so groot, maar ons mis hierdie ongelooflike voorreg om ‘n ouer te kan wees.

Dadelik kon ek vergifnis vra. Vir Vader, dat ek nie Hom vertrou met ALLES nie. Vir my man en kinders, dat ek soos ‘n beer met ‘n seertoon rondgeloop het. Vir myself, dat ek nie besef het hoe DANKBAAR ek kan wees nie. Wanneer jy met ‘n ondankbare hart loop, mis jy die seen. Selfs die Israeliete, tenspyte van al God se beskerming (die wolk en vuur in die woestyn), die voorsiening (die manna), die Rooisee wonderwerk – tenspyte van die alles, het hulle gekla. Hoekom? Want hulle harte was gefokus op “wat kort ek nog?” in plaas van “wat het ek om voor dankbaar te wees?”

Iewers in jou lewe beleef jy dalk ook iritasie, frustrasie. Dinge werk nie uit soos JY dit beplan nie. Het jy al daaroor gaan bid? Het jy al gaan hoor of jou plan ooit Vader se plan was vir jou? Ons verwag baie keer dat Hy ons planne moet seen, terwyl Hy reeds ‘n pad uit gele het voor jou – jy moet net naby Hom bly sodat jy Sy stem kan hoor wat se:”Kyk hier is die pad, stap hier”

Skryf daardie planne, frustrasies neer. Bid daaroor en laat toe dat Hy vir jou wys wat JOU hartskondisie is. As Hy vir jou die “lelike” deel van jou eie-ek wys, kan jy vergifnis vra vir Hom en vir jouself. Vergewe jouself (ek weet, dis baie keer die moeilikste) maar doen dit en weet Sy Genade is genoeg vir jou

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *